Ek dink ons almal het daai een persoon in ons lewens wat altyd bietjie meer gaan saak maak as die ander. Die persoon wat nie noodwendig vir liefde ‘n definisie gegee het nie, maar die een wat jou hart vir die eerste keer wakker gemaak het vir die realiteit daarvan. Die persoon wat ‘n vuur in jou kom stook het wat sonder verduideliking nie wil uitbrand nie – ongeag van die seisoene se kom en gaan.

Daar was ander na hom, ander wat wou saak maak, wat liefde probeer definieer het, maar niemand kom my ooit warm hou soos hy nie. Hy is nie die persoon wat ek eerste liefgehad het nie, maar hy is die persoon wat eerste saak gemaak het. Hy maak nogsteeds saak, want ek kan tot vandag toe nie na hom kyk sonder om die hitte te voel van die vuur wat ons destyds begin het nie.

En die Hemel alleen weet ek gee nie om my vingers te verbrand as dit beteken dat ek hom net weer kan vashou nie.

 

Ek speel elke oomblik van ons saamwees in my kop af. Ek kan nie presies onthou wanneer ons begin het nie, maar ek weet presies hoe. Jy het soos ‘n brander, sonder enige waarskuwing, in my lewe ingekom en my voete onder my uitgeslaan. En toe ek eers in jou arms val en in jou oë kyk het ek geweet dat ek nooit weer wil opstaan nie. Ons liefde was ‘n avontuur. Elke afdraai paadjie het met nuwe uitdagings gekom, maar met jou aan my sy het ek kans gesien vir enige iets.

Dis verby.                                                                     “Is julle nog lief vir mekaar?”.                              Ek dink so, wel ek is. Ek dink hy is nof lief vir my, ek hoop so. Ek is so lief vir hom.         “Dan is dit nog nie verby nie.”

Ek is nie vir ‘n enkele oomblik spyt nie. As ek kon kies sou ek jou ‘n duisend keer vind en ‘n duisend keer lief raak vir jou.

Maar al wat dit gevat het was een soen en een kyk in jou oë om te weet dat viraltyd te kort gaan wees saam met jou.

Ek wonder soms as ek daai dag eerder in ‘n ander rigting gekyk het, eerder besluit het om ‘n ander pad te volg, sou ek jou dan nogsteeds gevind het? Sou ek die liefde van my lewe mis as ek daai dag ‘n ander keuse gemaak het? Party dae wanneer die verlange en hartseer uit my borskas ruk, wens ek dat ek daai dag ‘n ander keuse gemaak het. Maar ek weet dat ek dan vir die res van my lewe opsoek sou wees na jou. En alhoewel ek soms wens ek kan van al die seer ontslae raak, is dit die moeite werd. Want daai aand het ek op die tipe liefde afgekom waarvan baie mense hulle hele lewe lank voor wag en nooit vind nie. Toe vind ek jou, in die middel van ‘n swak beligte straat in ‘n grafstil dorpie.


Hoe loop jy verby die persoon saam wie jy ‘n groot deel van jou lewe spandeer het asof hy ‘n vreemdeling is? Hoe maak jy asof jy hy hom nie raak sien nie as hy die enigste een is wat jy sien? Dit voel soos ‘n ewigheid wat verby is vandat ons mekaar laas gesien het. Jy loop verby my en in die stilte tussen ons hoor ek hoe jou hart uitroep na my. Ek staar na my voete, vreesbevange dat jy in my oë gaan kyk en sien hoe nodig ek jou eintelik het. Ek hoor jou stem en vir ‘n oomblik bekruip ‘n bekende vrede my. Dit vat alles in my om nie om te draai en in jou arms in te hardloop nie. Ek vang jou oog en ek breek. Elke muur wat ek opgebou het vandat jy weg is stort inmekaar. Elke persoon met wie ek jou probeer vervang het is vergete. Elke poging om jou te vergeet is onsuksesvol. Want op die ou end is dit jy. Alles gaan nog altyd net oor jou. Jy het ‘n houvas oor my. Jy hou my hart nog styf vas. Jy sit vas op my en ek sukkel om jou te laat gaan.

Ek is so moeg vir al die maniere waarop jy onbewustelik deel geraak het van my. Ek is so moeg vir jou musiek wat my speellys domineer. Ek is so moeg vir jou gunsteling boeke wat my bedkassie vol lê, boeke wat ek inelkgeval nooit gaan klaar lees nie. Ek is moeg vir die feit dat jy my gedagtes oorheers, en dat ek niks kan doen sonder om te wonder waar in die lewe jy is nie. Ek is moeg daarvoor om soos ‘n vreemdeling verby jou te stap en te maak asof jy nie bestaan nie, want jy bly steeds die rede vir my bestaan. Ek kan nie meer jou oë verdra wat heeltyd stip na my staar nie. Jou stiltes maak my mal want daar is so baie wat ek wil sê, maar in die oomblikke wat ons oë vlugtig ontmoet weet ek dis nie nodig nie. Ek is moeg daarvoor om voor te gee dat ek jou nie mis nie, ek mag dalk sterk wees maar selfs die sterkste mense bereik soms breekpunt. Hierdie masker wat ek dra begin kraak, en kort voor die lank gaan die waarheid onthul word. Eks net moeg, okay? So kom ons hou op met voorgee.

Ek soek nie veel van jou nie. Ek gee nie om dat ek jou nie so gereeld sien nie. Ek vra net dat jy my sal vashou en sal lief hê as jy naby is. Ons hoef nie elke dag te praat nie. Ek wil net af en toe weet jy dink aan my ook.  Kom ons vergeet van die formaliteite van ‘n verhouding. Ek wil net joune wees en ek wil net hê jy moet myne wees, ek wil net hê ons moet mekaar s’n wees. Gee my iets om na te verlang, om na te smag terwyl jy weg is. Sodat jy sal weet hoe baie ek jou lief het sonder dat ek dit ooit hoef te sê. Ek wil nie hoor dat jy lief is vir my nie, ons hoef nie daai sinnelose sinnetjie oor en oor vir mekaar te herhaal nie. Wys dit eerder vir my. Gee my iets om aan vas te hou as jy hier is en soveel meer om na te verlang as jy weg is. Laat my toe om op my eie pad te gaan in die teenoorgestelde rigting as jy. Laat my toe om my vlerke te sprei en nuwe dinge saam nuwe mense op nuwe plekke te ervaar. Maar gee my ‘n rede om huis toe te kom, gee my iets om na terug te kom.

Huis

Jy weet nie waarna jy soek tot dit voor jou staan nie. Ek het nie ‘n bestemming gehad tot ons paaie gekruis het nie. Jou hart het my reguit huis toe gelei en vir die eerste keer het ek iewers behoort. Maar nou verbeel ek jou weg terwyl ek verdwaal in iemand anders se arms. Met elke tree dwaal ek verder van die huis af, maar my hart wil nie gaan nie. Elke paadjie stap ek met die hoop dat ek jou weer iewers sal raakloop. Elke berg klim ek met die hoop dat jy aan die ander kant vir my sal wag.  Maar ek weet ek gaan jou nie kry nie, natuurlik gaan ek jou nie kry nie. Ek is opsoek na ‘n bekende gesig in al die onbekende plekke waar ek jou nooit sal vind nie. En dit slaan die wind uit my seile wanneer ek stukkies van jou vind in al die plekke langs die pad waar daar eens twee van ons was. Ek weet waarna ek soek, ek wens net ek het jou in genooi toe jy aan my hart se voordeur geklop het.

Vreemdeling

Iewers op ‘n reënerige somersdag in Februarie loop jy ‘n bekende vreemdeling raak en al waaraan jy kan dink is dat hy was waarvoor jy gewens het toe jy op ‘n warm Desember aand alleen onder die sterre gelê het. Jy groet hom skamerig, bang dat hy jou dalk nie gaan herken nie.  Hy kyk in jou oë en sy gesig verhelder soos hy besef dis jy wat voor hom staan. Hy trek jou styf teen sy bors en jy dink terug aan die laaste keer wat hy jou so vasgehou het. Hy stel jou voor aan sy vriende en dié wil dadelik alles van jou af weet. Sy vriendin vra of julle ooit iets gehad het en al wat julle kan doen is vir mekaar kyk. “Dis ‘n lang en deurmekaar storie!” lag julle. Julle groet en belowe om mekaar binne kort weer te sien.

Jy dink terug aan daai sprokiesverhaal naweek in die Bosveld, daai koel wintersaand in Julie toe ‘n vreemdeling by jou hart se deure kom aanklop het. Jy onthou hoe vinnig, en onverwags, hy jou lewe binne gestorm het. Totaal en al onbeplan, maar ongetwyfeld die moeite werd. Jy verlang na die manier hoe julle snags tot in die vroeë oggend ure langs die bosveldvuur gesit het en julle toekomsplanne in die sterre geskryf het. Jy raak stil as jy dink aan die aand toe julle sy aan sy op die louwarm Afrika sand gelê het en na die melkweg gestaar het, die naggeluide was julle agtergrond musiek. Jy giggel as jy dink aan al middernag ure wat julle op die kombuiskas gesit en fluister het terwyl die ketel op die gasstofie in die donker ‘n deuntjie fluit. Jy glimlag as jy terug dink aan hom, sy teenwoordigheid, sy grappies, sy veilige arms, julle mislukte jagtog. Jou oë vorm ‘n traan as jy dink aan julle laaste dag saam toe julle vir ou laas ‘n draai gaan ry het. Jy onthou hoe hy die bakkie afgeskakel het en hoe julle in stilte na die berge gestaar het. ” Alles is so deurmekaar. Ek wil net hier bly, ek wil net viraltyd hier bly en elke dag saam met jou wees.” Hy het na jou gekyk en alle moed het in die rooisand onder jou kaalvoete weggesink. Julle moes binne kort groet en dan sal julle paaie skei, met geen virsekering dat daar ‘n volgende keer gaan wees nie. Wat nog te sê van ‘n viraltyd?

Oppad terug huistoe het jy probeer begryp hoe ‘n vreemdeling in die tydperk van 3 dae so ‘n groot spasie in jou hart kon inneem. Julle was onafskeidbaar, jy weet dit. Maar jy was nie verlief op hom nie, of jy dink nie so nie. Tog het hierdie vreemdeling iets in jou kom wakker maak. Hierdie vreemdeling wat al jou geheime ontrafel het en jou stories ken asof hy dit saam met jou beleef het. Hierdie vreemdeling wat jy met jou lewe kan vertrou. Hierdie vreemdeling wat jou onafskeidbare beste vriend geword het in die kort tydperk van 72 uur. Hierdie vreemdeling aan wie jy sal dink en verlang tot jy hom weer op ‘n reënerige somersdag in Februarie raakloop. Daarna sal jy elke dag ‘n bietjie meer na hom verlang terwyl jy droom oor viraltyd.